Dié 24-jarige, Willem Botha, het die musiekbedryf met dryfkrag en deursettingsvermoeë betree en duidelik gemaak dat hy hier is om te bly!!!
Sy nuutste album, Sê My Nou, is vroeg 2010 as nominasie benoem by die 16de MTN SAMA (South African Music Awards) Toekennings in die kategorie Beste Sokkie Dans Album. Willem vertolk tans een van die hoofrolle in Deon Opperman se nuwe musiekblyspel, TREE AAN! en hard aan die werk aan ’n nuwe album wat later in 2011 uitgereik sal word.
MEER OOR WILLEM
Hy is gebore en getoeë in Riversdal. Hier het hy saam met Pa, Theunis, Ma, Sarie en ouboet, Louis grootgeword. Op skool reeds het hy uitgeblink veral in perdry en was verskeie kere die Kinder en Junior Arabierperdruiter Kampioen in die land. In sy matriekjaar aan die Hoër Landbouskool Oakdale het hy aan Die Burger se Plusster-kompetisie deelgeneem en gewen.
2006 was ’n warrelwind jaar: Hy het gaan Drama studeer aan die Universiteit van Stellenbosch, maar dit is kortgeknip na slegs vyf maande. In Mei het hy terwyl hy op toer was saam met Nicholis Louw in Port Elizabeth ’n oudisie afgelê vir Idols. In Augustus word hy as naaswenner in kykNET se Afrikaanse Idols-reeks gekroon en ’n week later spog hy met ’n platekontrak van Sony Music. In Oktober 2007 trek hy sak en pak na Johannesburg. Sy debuutalbum, Kô Ma Hier, word later die jaar uitgereik, hy wen Huisgenoot se Tempo-Toekenning as Beste Nuweling en word die gesig van House & Home.
2009 merk die bekendstelling van sy splinternuwe album, Sê My Nou. Hy het ook onlangs sy eerste internasionale toekenning gewen in die EuroStar Awards wat deur Eurovision aangebied is. Die snit Dis Alles ’n Miracle vanaf sy debuut CD het gewen in die kategorie vir Beste Oorspronklike Afrikaanse Liedjie met ‘n Eurovision konneksie en wat dit meer merkwaardig maak is dat hy teen die Belgiese platinum verkoper, Christoff de Bolle in die kategorie genomineer was.
Willem het 2010 sy filmdebuut gemaak met die Afrikaanse moviemusical, Liefling Die Movie, wat alle rekords gebreek het vir Afrikaanse rolprente landswyd. Verder was hy ook te sien saam met Emo Adams in in ’n tribute show aan Michael Jackson wat vir vier uitverkoopte sale tydens vanjaar se KKNK gesorg het. Willem het ook sy eerste SAMA-nominasie vir sy album, Sê My Nou, in die kategorie Beste Sokkie Dans Album. Hy het ook aangesluit as ambassadeur vir Bone Wear asook Carrera Eyewear.
2011 is beslis ’n jaar om Willem Botha dop te hou... Hy is aangewys as een van Heat en Tongelos se celebs wat deurbreuk vanjaar en sy dagboek bars uit sy nate. Willem hou weer sy lyf akteur en vertolk een van die hoofrolle in Deon Opperman se musiekblyspel, die verhoogstuk Tree Aan! wat sy teaterdebuut sal merk. Opwindende jaar met baie in die pyplyn en ’n splinternuwe album wat teen einde 2011 op die rakke behoort te wees!
MEER OOR Sê My Nou
Sy lankverwagte tweede album is landswyd beskikbaar! Sê My Nou, se polsende ritmes sal jou in rekordtyd meesleur en jou voete behoorlik laat jeuk. Met dié album beloof Willem om sy grootste kritici stil te maak...
Die album getuig van ’n baie meer volwasse Willem. Die kwaliteit in produksie en stemkwaliteit op Sê My Nou spreek boekdele. Dis twee jaar sedert die vorige album en van die sestien snitte op die album is nie minder nie as dertien oorspronklik en kraakvars! Met veertien snitte in Afrikaans en twee Engels.
Skrywers wat meegewerk het op die album sluit onder meer die bekroonde en geniale Johan Vorster in. Vorster is die afgelope paar jaar die man agter byna elke groot treffer in ons land van kunstenaars soos Eden, Bok van Blerk en Lianie May. Die snit Onsigbaar Vir Jou het Vorster spesiaal vir Willem geskryf en hy het ook die produksie op die snit behartig.
Verder het Hugo Ludik – wat die treffer van Kurt Darren, Papsopwinterwaternat, geskryf het ook saam met Willem geskryf aan twee van die snitte op die die album, Wow, Dis Hoe Ek Van Jou Hou en My Hart Klop Boom.
Die res van die snitte het Willem self ’n groot aandeel in en as jy luister na die lirieke op Sê My Nou kry jy ’n baie eerlike weergawe van die jong lat, sy lewe, gevoelens en worstelinge.
Die album het ook emosiebelaaide ballades in die vorm van Wie Is Jy? en Unbelievable. As jy na hierdie snitte luister kan jy nie ander as om saam te gaan op sy emosionele reis nie.
Die uptempo snitte is vollop en die wat beslis aandag trek is die titelsnit Sê My Nou, Wow, Dis Hoe Ek Van Jou Hou, Hi Hi Ho, Bye Baby Bye Bye, Moet Dit Nie Sê Nie en Rock Vanaand Langs Jou.
Die snit Hoe Meer Ons Dit Doen is ’n duet met nog ’n Idol – Andriette Norman en handel oor twee persone wat net nie genoeg van mekaar kan kry nie. Beslils ’n snit wat jy nie vinnig sal vergeet nie!
Hi Hi Ho – Bokke Weergawe is ’n bonus snit wat bestem is vir groot dinge met sy meusleurende ritme en lirieke wat handel oor hoe ons as Suid-Afrikaners agter die Bokke staan en ons spanne ondersteun– ideaal vir die volgende braai en rugby byeenkoms!
Sê My Nou bied iets vir ieder en elk en met Byron Kuntz wat die produksie behartig het is dit beslis nie ’n album waarvoor jy gou gaan moeg word nie! En die CD-boekie is ’n lus vir die oog... Kyk gerus self!